ADV. NEIL SNELLENBURG, kaptein van die advokate se span, gee hier die bal uit op een van sy span se geheime oefeninge vandeesweek in Bloemfontein. Foto: Charl Devenish

’n SPAN met ’n goeie balans van ervaring en jeugdige voortvarendheid draf oormôre in die blou truie van die advokate teen die prokureurs in die Vrystaat-stadion vir die vierde vyftienjaarlikse tradisionele wedstryd tussen die regslui in die Vrystaat uit.

Die advokate se geheime plan is gebou om sy drie impakspelers wat ouer as 60 is. ’n Besondere plan is met dié drie “onaantasbares” uitgewerk om die prokureurs lelik op hul neuse te laat kyk en hulle ook die een geel- en rooikaart ná die ander op die lyf te laat loop.

Een van hulle, adv. Majel Wessels SC, het juis vandeesweek op ’n geheime oefening gesê hy kom nou agter hy is, ondanks sy gryse haardos, steeds so vinnig as in sy jong dae. Die beginspan is advv. Joubert Zietsman, Willem van Aswegen, Tiaan Pienaar, Johan Olivier, Stefan Grobler, Stephan Rautenbach, Stelios Tsangarakis, Jan-Hertzog Els, Craig Snyman, Henk Cilliers, Craig Human, Neil Snellenburg (kaptein), Marthinus Steenkamp, Lawrence Manye en Altus Kitching.

Die plaasvervangers is advv. Barnard Knoetze SC, Corrie Ploos van Amstel SC, Majel Wessels SC (al drie bo 60), Johann Daffue SC, Willem Edeling, Phillip Loubsher (al drie bo 50), Wessel Groenewald en Jason Johnson.

Die advokate se tradisionele spandokter is adv. Jackie Steytler en hul sjampanjenooientjie is adv. Denise Greyling.

Die reëls bepaal dié oor 50 moet ’n wit broek dra en mag nie gelak word nie. Dié oor 60 moet ’n pienk broek dra en mag nie geduik, vasgehou of gestamp word nie. Op hul beurt mag hulle egter nie verder as 20 treë op ’n slag met die bal beweeg nie.

Die wedstryd sal 40 minute duur met ’n rustyd van tien minute. Ná elke tien minute word ’n waterpouse gehou wanneer die spelers water, of iets anders, moet drink teen dehidrasie.

Mike van Rooyen

– Volksblad