DRIE ervare manne, met jare se ondervinding agter die blad, sal die skeidsregter in die vyftienjaarlikse kragmeting tussen die advokate en prokureurs in die Vrystaat môre in die Vrystaat-stadion as grensregters en TV-skeidsregter bystaan.

Adv. Jimmy Claasen SC en Peet van Rooyen SC, die twee grensregters, neem hul pligte baie ernstig op. “Ons is al 18 maande besig met voorbereiding. In die dag oefen ons en in die nagte werk ons.”

Hulle was in die vorige wedstryd, in 1996, ook die grensregters.

Prof. Johan van Schalkwyk, die TV-skeidsregter en ere-skeidsregter van vanjaar se wedstryd, het self jare lange ondervinding.

Dié afgetrede hoof van die departement van privaatreg aan die Universiteit van die Vrystaat het die fluitjie in die vorige twee wedstryde in 1981 en 1996 in sy mond gehad.

 

Hy het gister gesê wat baie belangrik is van dié wedstryd is dat die samehorigheid die band tussen die prokureurs en die advokate as regslui weer smee.

Van die 30 spelers en die talle reserwes het meer as 90% by hom klas op die UV gehad.

Hy gaan rooi en groen tafeltennisspane hê waarmee hy vir dr. Brand Claassen, die skeidsregter in die wedstryd, kan beduie of ’n drie toegeken moet word, of nie.

Van Rooyen en Claasen, wat al 25 jaar lank saam in die balie is, sê hulle as grensregters is ’n onbekende, maar baie belangrike faktor in die wedstryd. Hulle het nou amptelik rooi en geel kaarte gekry om uit te deel wanneer iemand ’n fout maak. Nie net vir die spelers nie, die skeidsregter moet ook maar in sy pasoppens bly, of hy kry ’n kaart, sê hulle.

Die voorwedstryd tussen die prokureurs en prokureursklerke skop om 14:30 af. Om 16:00 speel die advokate teen die prokureurs in die hoofwedstryd.

Die publiek is welkom om die wedstryde by te woon. Al die toeskouers gaan op die hoofpaviljoen sit. Die toegang is gratis.

DIE TV-skeidsregter met die twee grensregters weerskante van hom hou hier foto’s van die vorige twee wedstryde vas. Van links is adv. Jimmy Claasen, SC, prof. Johan van Schalkwyk en adv. Peet van Rooyen, SC. Van Rooyen neem nou as regter in die Vrystaatse hooggeregshof waar. Foto: Theo Jeptha

 

Mike van Rooyen

– Volksblad

Lees die ander berigte oor die Rugby … Hier!