VERMOEDENS van ’n erge geknoei onder prokureurs in die Vrystaat het daartoe gelei dat die advokate in Bloemfontein die sekuriteit en toegangsbeheer in hul kantore in die Justitia-gebou in Aliwalstraat teen hoë koste laat opknap het.

Spioenasie deur lede van die sy-balie (prokureurs) om uit te vind wat in die “hart” van die balie (advokate) aangaan, het dit genoodsaak, sê adv. Corrie Ploos van Amstel, SC.

Boonop dreig daar ook nog ’n konfrontasie tussen die balie (advokate) en die sy-balie (prokureurs) oor ’n ouderdomskwessie van hul lede.

Dít alles is die voorloper van die vierde vyftienjaarlikse rugbykragmeting tussen die balie en die sy-balie wat volgende Vrydagmiddag in die Vrystaat-stadion beslis gaan word.

Ploos van Amstel sê benewens dié “krapperighede” wat uitgestryk moet word, verloop die reëlings vir die groot kragmeting vlot.

Die onderskeie spanne van 15 man elk, met agt reserwes elk, is reeds gekies en verteenwoordigers van die balie en sy-balie het al vergader om seker te maak dat almal die reëls verstaan. Wat egter krap, is dat een van die prokureurs, mnr. Das van Deventer van Bloemfontein, hom vandeesweek as ’n “vinnige” vleuel vir die advokate se span aangebied het. Toe die advokate nie belang stel nie, het hy vertel hy het ’n goeie aanbod vir sy dienste van die prokureurs gekry.

Ploos van Amstel beskryf hierdie as ’n powere poging om meer oor die taktiek van advokate agter te kom.

Die balielede is ook daarop gewys om op te let vir verdagte prokureurs in hul kantoorgebou.

Ploos van Amstel sê verder die reëls van die wedstryd bepaal dat niemand wat onder 30 jaar oud is, of wat provinsiale rugby gespeel het, of die afgelope tien jaar klubrugby gespeel het, vir een van die spanne gekies mag word nie.

Die advokate het drie lede oor 60 gekies en van die ander is oor die 50. Minstens vyf advokate het 15 jaar gelede ook vir die balie se span uitgedraf. Die prokureurs het nie een speler van 50 en ouer gekies nie. Dit krap van die advokate om. Die reëls bepaal dié oor 50 moet ’n wit broek dra en mag nie gelak word nie. Dié oor 60 moet ’n pienk broek dra, mag nie geduik, vasgehou of gestamp word nie. Hulle mag egter nie verder as 20 treë op ’n slag met die bal beweeg nie. Die wedstryd sal 40 minute duur met ’n lemoentyd van tien minute. Ná elke tien minute word ’n waterpouse gehou wanneer die spelers water, of iets anders, moet drink teen dehidrasie.

Die advokate se truie is lig- en donkerblou met donkerblou broeke. Die prokureurs se truie is swart, rooi en wit, met swart broeke.

“Vanweë die advokate se natuurlike liggaamsbou, is die bestelling van ons truie net van large af na groter. Ons pas nie in small en medium nie,” sê Ploos van Amstel.

Mike van Rooyen

– Volksblad

 

Gaan Hier om ander artikels oor die rugby te lees.