DIT IS D-DAG. Vir vanmiddag se groot, vyftienjaarlikse rugbykragmeting tussen die prokureurs en advokate in Bloemfontein het die prokureurs vandeesweek in ’n geheime oefening hul staal teen niemand anders nie as die Shimlas getoon. Foto: Theo Jeptha

DIE balju van Bloemfontein is gister in ’n dringende aansoek in die Vrystaatse hooggeregshof verbied om alle rugbyballe in die Vrystaat op ’n geregtelike veiling te verkoop.

Regter Ian van der Merwe het mnr. Chris de Wet verbied om met sy “innige en verklaarde” voorneme voort te gaan om alle rugbyballe in die Vrystaat in eksekusie te verkoop.

Hy het gesê hy vermoed dié voorneme van die balju is deel van ’n komplot om te keer dat die tradisionele vyftienjaarlikse rugbykragmeting vanmiddag om 16:00 tussen die advokate van die Vrystaatse balie en die prokureurs in die provinsie in die Vrystaat-stadion gespeel word.

Dié aansoek en ’n aansoek om mnr. Corrie Venter (60) van Naudés-prokureurs en agtsteman van die prokureurs onder kuratorskap van mnr. Martin Möller, sportsielkundige van die advokate se span, te plaas, is gister deur adv. Corrie Ploos van Amstel, SC, geargumenteer. Hy is bygestaan deur advv. Alex Danzfuss, SC, Barnard Knoetze, SC, en Neil Snellenburg, kaptein van die advokate se span.

Möller sê in ’n hofverklaring Venter is nie herkenbaar op die foto op sy identiteitsdokument nie, wat op sy dubbele persoonlikheid dui.

Sy sielkundige profiel dui onder meer op die eienaardighede dat hy in die pienk rugbybroek, waarin hy as speler ouer as 60 jaar moet speel, onder die indruk is dat hy aan ’n balletvertoning gaan deelneem.

Die gevaar bestaan dat hy as gevolg van sy verwarrende denke en disoriëntasie gevaar loop om beseer te word, of selfs in die verkeerde rigting met die bal sal hardloop.

Regter Van der Merwe het die deel van die aansoek oor Venter afgewys omdat hy dink dit is om te verhinder dat Venter vir die prokureurs uitdraf.

Hy het gesê hy ken Venter se vermoëns en hy dink daarom nie dat die advokate hoef te vrees dat hy vir hulle enige gevaar op die rugbyveld sal inhou nie.

Mnr. Ockie van Schalkwyk, bygestaan deur mnre. Das van Deventer en Herklaas Venter, het namens Venter en die Bloemfonteinse prokureursvereniging betoog dat Venter ’n asmalyer is. Hy kan nie in die teenwoordigheid van Möller (’n swaar roker) wees nie.

Regter Van der Merwe het in sy uitspraak gesê dit is dus in lewensbelang vir Venter dat hy nie onder kuratorskap van Möller geplaas word nie.

Hy het ter afsluiting gesê dit is die mees vreugdevolle aansoek wat hy in jare aangehoor het.)Regter van der Merwe sal vanmiddag die regterpresident en die regsbank by die wedstryd verteenwoordig en die twee spanne sal voor die afskop aan hom voorgestel word.

’n Heildronk sal ook dan ingestel word.

Die publiek is welkom om die wedstryd by te woon. ’n Voorwedstryd tussen jonger prokureurs en prokureursklerke begin om 14:30.

Mike van Rooyen

– Volksblad