DR. BRAND CLAASSEN (regs), skeidsregter van die groot rugbystryd Vrydagmiddag in die Vrystaat-stadion tussen die advokate en prokureurs in die Vrystaat, verduidelik gister aan adv. Johann Daffue, SC, leier van die balie, ’n paar reëls vir diewedstryd

DIE vierde vyftienjaarlikse rugbykragmeting tussen die advokate en prokureurs in die Vrystaat Vrydagmiddag in die Vrystaat-stadion gaan nie ’n sirkus wees nie. Die wedstryd gaan mededingend wees.

Só sê dr. Brand Claassen, skeidsregter van dié wedstryd wat die fluitjie om 16:00 vir die afskop sal blaas.

Claassen, wat nou departementshoof van privaatreg aan die Universiteit van die Vrystaat is en in die vorige wedstryd 15 jaar gelede vir die prokureurs gespeel het, sê die wedstryd sal in ’n goeie gees gespeel word.

Dié kosbare tradisie moet voortleef. en hy sal sy bes doen om, indien moontlik, die beste span te laat wen.

Op ’n ligter noot, sê hy hy sal geskenke van die twee kampe oorweeg. Die afsnytyd daarvoor is Vrydag om 12:00. Die manne weet waar sy kantoor is.

Claassen sê hy volg nie net vir prof. Johan van Schalkwyk op as skeidsregter vir dié wedstryd nie, hy het hom ook as departementshoof van privaatreg opgevolg. Van Schalkwyk het die fluitjie in die vorige twee wedstryde in 1981 en 1996 hanteer.

Claassen het self al nasionaal en internasionaal aan sogenaamde “Golden Oldies-toernooie” deelgeneem. Hy het gevolglik ’n baie goeie kennis van die toepassing van die reëls. Uit die aard van sy werk, ken hy die meeste van die spelers wat Vrydag gaan speel.

Volksblad het gistermiddag laat ’n geheime oefening van die advokate bygewoon.

Dit was duidelik dat hulle onder aanvoering van hul kaptein, adv. Neil Snellenburg, vlymskerp en gereed is om die prokureurs aan te vat.

Groot ontsteltenis heers egter onder hulle omdat die prokureurs nog nie ’n span vir Vrydag bekend gemaak het nie.

Blykbaar sukkel hulle om mense te kry wat wil speel, word onder die advokate bespiegel.

Mike van Rooyen

– Volksblad