Oudadvokaat sterf in sy winkel

Adv Martin Möller

ADV. MARTIN MÖLLER (58), bekende oudregsman van Bloemfontein en Oos-Vrystaatse sakeman en gastehuiseienaar, is gisteroggend dood in sy oudhedewinkel This and That op Clarens gekry.

Hy het moontlik aan ’n hartaanval gesterf.

Möller het ’n jaar gelede die regsberoep in Bloemfontein vaarwel toegeroep en na Clarens verhuis om sy oudhedewinkel en gastehuis te bedryf.

Adv. Alex Danzfuss, SC, voorsitter van die Vrystaatse balieraad, sê hy was ’n uitstekende advokaat en een van die beste regsmanne.

Möller was 28 jaar in die balie en ’n gedugte teenstander in die hof, maar ’n aangename kollega in die balie, sê hy.

Adv. Corrie Ploos van Amstel, SC, sê die nuus oor Möller se dood is ’n skok.

“Hy was ’n hardwerkende, bekwame en toegewyde advokaat. Dit is egter nie al nie. Nie baie mense weet nie, maar hy was een van die land se top-vioolrestou-reerders en het ook baie mooi geskilder.”

Alet Coetzer, van Oudtshoorn, sê haar broer was ’n liefdevolle en spesiale mens. Hy was lief daarvoor om met sy hande te werk.

Möller is op Dewetsdorp gebore en het in 1971 aan die Hoërskool JBM Hertzog gematrikuleer voordat hy deeltyds aan die Universiteit van die Vrystaat in die regte gestudeer het. Hy het twee regsgrade met lof behaal.

Hy laat sy seun, Dieperink Möller, dogter, Hilletje Bashew, twee susters, Magda Smith en Alet Coetzer, en ’n broer, Francois Möller, agter.

Dieperink Möller is ’n prokureur by Symington en De Kok-prokureurs in Bloemfontein.

Storie geskryf deur Die Volksblad …