‘Sportsielkundige’ sê om te lak kwel sy span advokate nog

OMsportsielkundige vir ’n klomp advokate te wees, sit nie sommer in enige man se broek nie, sê adv. Martin Möller, wat dié taak

het om die balie se manne

geestelik gereed te kry vir die groot rugbystryd oormôre teen die prokureurs in die Vrystaat-stadion.

Die twee spanne meet dan kragte in die vierde vyftienjarige tradisionele wedstryd tussen die regslui in die Vrystaat.

Adv. Möller werk met die advokatespan en het hulle al deur hul eie Kamp Staaldraad, gesit, soos die destydse omstrede oefenkamp van die Springbokke geheet het.

Op die oomblik is van hulle, veral die jongeres, se moreel laag, want hulle is bang om die prokureurs te lak. Hulle is bekommerd dat hulle dan dalk nie weer opdragte van die prokureurs gaan kry nie.

Maar Vrydag om 16:00sal hulle so reg soos ’n roer en gemotiveerd wees, sê hy nadat hy op ’n geheime oefening tussen hulle deurgeloop het.

“’n Advokaat is nie ’n maklike mens om mee te werk nie. Jy moet weet daar is nog psigopate ook onder hulle. Dis nie sommer enigeen wat met ’n advokaat kanwerk nie.”

Hy het dié taak om hulle reg gemotiveerd op die veld te kry juis omrede sy ervaring gekry.

In die 1970’s het hy vir vyf dae per week om die beurt in die lykshuis en in die destydse Oranje-hospitaal in Bloemfonteinas assistent-hulpverpleër gewerk om vir sy regstudie te betaal. Die ander twee dae het hy in die buitekroeg van die destydse Hotel Fontein gewerk. “Daar het ek oor al die rugby-tipes geleer,” sê hy terwyl hy ’n diep teug aan sy sigaret vat.

“Vrydag sal jy ’n ander ding sien. Dis soos ’n hofsaak. Die dag as jy daar by die poorte van die hofkom, gebeur die ding.”

Dis hoe gereed sy manne dan gaan wees. Hul koppe sal reg wees vir die stryd.

Oor sy Kamp Staaldraad sê hy as ’n speler fouteer, kry hy met ’n ou houtliniaal ’n paar rapse op die hande. “Die kinderlike angs vir lyfstraf word ontketen wat sy denke oorheers.”

Hy het hulle oortuig dat hulle nie skaam hoef te wees om as volwassenes te huil nie. “Al word daar nou snikkend in die oefeninge gespeel, het die standaard van die spel aansienlik gelig.” Hy het hulle ook aangemoedig om vir elke prokureur wat hulle lak, te sê: “Ag man, jou ma is ’n prokureur.” Dit bring die nodige aggressie in die advokate uit.

 

Written by Die Volksblad