Bekende regsmanne spanne se beskermhere

DIE bekende prokureur en adjunk-president van die Vrystaatse Rugbyunie, mnr. Bert Sorour, en die ewe bekende adv. Henry Viljoen, SC, van die Kaapse balie sal onderskeidelik die beskermhere van die prokureurs en die advokate wees wanneer hul onderskeie spanne volgende Vrydag om 16:00 teen mekaar in die Vrystaat-stadion afskop.

Dié tradisionele vyftienjaarlikse rugbywedstryd gaan vir die vierde keer om die G.A. Fichardt-wisseltrofee beslis word. Die advokate het die trofee in 1966 en 1981 en die prokureurs in 1996 gewen.

Viljoen is reeds nou 45 jaar by dié wedstryd betrokke: in die eerste twee wedstryde as speler en in 1996 en volgende Vrydag as beskermheer.

Adv. Corrie Ploos van Amstel, SC, sê alle regslui in die Vrystaat gaan genooi word om dié geskiedkundige wedstryd by te woon.

Talle regslui van buite Bloemfontein word verwag. Alle toeskouers sal op die hoofpaviljoen sit. Die publiek is ook baie welkom om die wedstryd so van 15:00 af by te woon.

Die advokate gaan net daarna op die veld begin opwarm en daar bly totdat die wedstryd begin, want in die vorige wedstryd in 1996 het twee van hul spanlede sommer met die opdraf al hul sening van die agterdyspiere (hamstrings) geskeur, sê hy.

Net soos in die geval van ’n provinsiale rugbywedstryd sal voldoende sekuriteitsmanne en professionele noodhulp by die wedstryd wees.

 

 

Mike van Rooyen

– Volksblad