MNR. DAS VAN DEVENTER sal Vrydag die nr. 11-trui vir die prokureurs oor die kop trek vir die groot rugbykragmeting teen die advokate: “Ons is kalm. Ons en die rugbykenners weet wie gaan wen.” Foto: theo jephta

DIE prokureurs het geen Kamp Staaldrade, sielkundiges of motiveerders nodig nie.

Die prokureurs se enigste geheime wapen is die span se oorvloed rugbytalent. Die advokate moet maar weet: Oormôre kom hulle weer tweede in die rugbykragmeting tussen die balie en sy-balie.

Só sê mnr. Das van Deventer, vleuel (11) en segsman van die prokureurspan.

Van Deventer sê in die prokureurspan se geledere heers kalmte en selfvertroue.

Dié span is só gereed dat vanaand se oefening ’n videovertoning van The Sound of Music en ’n vleisie oor die kole gaan behels.

“Lekker in ligte luim. Ons hoef nie rugbyvideo’s te kyk, of te oefen nie. Selfs rugbykenners weet die koeël is klaar deur die kerk. Die advokate gaan ook vanjaar nie suksesvol wees nie.”

Uitstekende balretensie, uitmuntende taktiese skopwerk, briljante balverspreiding en genoeg spoed op die punte is waarteen die advokate hulle Vrydag op die veld gaan vasloop, sê Van Deventer.

Daarmee saam is daar nie net een gevreesde David Campese soos die Aussies destyds gehad het nie. “Die hele prokureurspan is vreesaanjaend en dwing re-spek af – op die veld en van die veld af.”

Van Deventer sê terwyl die prokureurs kalm is, bemerk hulle onrustigheid en selfs bangbroek-gedrag in hul opponente se geledere.

Die advokate se opskerping van veiligheid en toegangsbeheer in hul kantore om spioene (prokureurs) uit die “hart” van die balie te hou en advokate se klagtes en gekerm oor ’n “jong prokureurspan” en oor ander nietighede, dui op die advokate se benoudheid en vrese.

“Ons speel volgens die reëls en spioeneer nie op die advokate nie. Ons het sulke ingewikkelde en komplekse spelpatrone en wedstrydplanne, dat ons regtig nie hoef te weet wat in die advokate se ‘harte’ aangaan nie. Hulle moet hul geld eerder aan afrigters as sekuriteit bestee.”

Die prokureurs dra ook eenvoudig hul jare beter as die manne in die balie. “Ons sal nietemin met ons identiteitsboekies veld toe gaan.”

Van Deventer sê terwyl die advokate bang is vir spioene, word inligting uit die “hart” van die balie gelek.

“Só weet ons die advokate oefen al drie weke intensief. Selfs in tee- en etenstye word daar glo rolmaal- en dryfbewegings in die parkeervlak van die advokatekamers geoefen.

“Gerugte wil dit ook hê dat hul lynstaantekens, Pepsi vir voor en Coke vir agter, glo daagliks onder die voorspelers gesirkuleer word. Dit word glo ook agter die badkamerdeure geplak. Dieselfde tekens word blykbaar gebruik vir die agterlynbewegings.”

Hy sê verder het inligting uitgelek dat die advokate ’n sielkundige of motiveerder het om hulle moed in te praat.

Hieroor is Van Deventer en die res van die prokureurspan skepties. “Een sielkundige of motiveerder vir hulle is nie genoeg nie.”
 

Dirk Kok

Volksblad